BARNYARD LOYALTY CLUB
ENQUIRIES
Book online through our website
or telephonically
JANNIE DU TOIT - DOEP IS NIE DOOD NIE (Musiekskuur)
Jannie du Toit se vertolking van net meer as 20 van Koos Doep se liedjies
Vertoning in ons intieme nuwe Musiekskuur-teater @ Pretoria-Barnyard: DOEP IS NIE DOOD NIE - 'n eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis. Koos is in Januarie 1984 op jeugdige leeftyd oorlede, maar sy nalatenskap bly 'n bron van wysheid en onsterflike musiek. Dertig jaar na sy afsterwe word dit in hierdie verhoogproduksie duidelik hoe lewend en relevant sy siening van die lewe steeds bly, hoe treffend sy liedkuns. Jannie du Toit, 'n groot vriend van Du Plessis, sit hiermee sy werk voort om Koos se musiek by 'n volgende geslag te laat voortleef. Hy verwesenlik ook 'n jarelange droom om 'n _"eenmanvertoning" _oor Koos se werk aan te bied. Hy kry dié geleentheid met die vriendelike steun van Clover Suid-Afrika en Innibos Kunstefees. Die samesteller en regisseur, Carl Theunissen, was as joernalis 'n jarelange vriend en kollega van Koos Doep. Jannie het sy eerste opname van een van Koos se liedjies, SKIMME, vir sy album 'N LIEDJIE VIR JOU in 1981 gemaak - 'n jaar nadat hy Koos ontmoet het. Hy was in 1987 deel van die KOOS SE PLAAT-huldigingsprojek saam met Lucas Maree, Coenie de Villiers en Nick Taylor en het daarna telkens weer projekte aangepak waarin Koos se musiek bekend gestel is. Saam met Lucas het Jannie in 1987 Koos se GEBED laat hoor en hy skryf daarna in oorleg met Koos se gesin 'n laaste strofe vir SOMERKERSFEES. Jannie stel dié lied in 1992 op 'n album bekend en dit is nou die mees gesogte oorspronklike Afrikaanse kersliedjie. Saam met Christa Steyn en andere bied hy ook aan: SKADU'S TEEN DIE MUUR (1992 - dié produksie word ook in België en Nederland aangebied), NAGKANTOOR (2004) en DAGBOEK VAN 'N SWERWER (2007).

SHARE THIS PAGE