BARNYARD LOYALTY CLUB
ENQUIRIES
Book online through our website
or telephonically
DOZI (Musiekskuur)
Hande Vol Genade
Met sy agtiende album, getiteld Hande vol Genade , keer Dozi terug na sy wortels. Dit is ‘n gestroopte Afrikaanse album wat skitter van die akoestiese sjarme en ‘n rou eerlikheid wat die fokus opnuut op Dozi se meesleurende stem plaas. Met sy jarelange medewerker, die liedjieskrywer, tromspeler en sanger Stef Kruger, wat weer die liedjies geskryf het, kan luisteraars verseker wees van ‘n handvol goue oues wat op dié album kom aanklop het. Reeds vanaf die eerste note van Alewig op reis neem Dozi die luisteraar op ‘n klankreis met van die mees poëtiese lirieke in Afrikaans. Daar is liedjies soos Murasies met sy heerlike poprock-melodie en op-en-wakker-kitaarspel, terwyl Binneboud Baaisiekel sommer gou in ‘n gunsteling sal ontpop met sy sakkie-sakkie-ritmes. Karoo-telegram verras weer met sy kraakvars blues-aanslag, terwyl Om te groet ‘n country-geurtjie het met ‘n titseltjie Americana – totaal oorspronklik in Afrikaans. Vir sy veertiende Afrikaanse album het Dozi die kitaar-maestro Mauritz Lotz gevra om die produksieleier te wees. Lotz het op Dozi se heel eerste album kitaar gespeel en sedertdien wou Dozi saam met hom ‘n album opneem. “Daar was net nog nooit die geleentheid nie. Dit was baie lekker om saam met Mauritz te werk. Hy is ‘n baie hot musikant.” Die ander musikante wat op die album gehoor kan word, sluit in Denny Lalouette op kitaar en die tromspeler Vinnie Henrico met Lotz wat ook kitaar speel. Hande vol Genade plaas die kollig op Dozi se gevoelvolle sang en sy vermoë om liriese ballades met onbeskryflike warmte te vertolk. “Ek hou daarvan dat die ouens die woorde kan hoor. Ek dink nie Afrikaanse gehore hou van ‘n vreeslike geskree nie. Hulle hou meer van laid back,” vertel die sanger wat in 1999 met die album Mercy gedebuteer het en dubbel-platinumstatus geniet het met sy eerste Afrikaanse album, Op aanvraag. Sy persoonlike gunstelinge is Murasies en die blues-liedjie Karoo-telegram. “My grootste droom is om blues te doen. Ek is baie lief vir blues. So ons het probeer om dit op Karoo-telegram in te bring”. Dozi glo daaraan om elke dag as musikant te groei en te ontwikkel. “Ek staan in die oggend op en oefen heeldag kitaar. En doen kursusse van oorsese (kitaar) teachers. Ek is maar my eie mark. Ek leer elke dag net meer . Hande vol Genade, wat ook die Engelse liedjie If I was Jesus met sy meegaande akoestiese weergawe insluit, toon die veelsydigheid van Dozi as sanger én musikant. Hier is ‘n Afrikaanse sanger wat in klank en liriek die soort musiek in Afrikaans maak wat die stempel wêreldklas verdien. Hande vol Genade is reeds een van 2014 se top- nuwe uitreikings.

SHARE THIS PAGE