BARNYARD LOYALTY CLUB
ENQUIRIES
Book online through our website
or telephonically
OSKAR EN DIE PIENK TANNIE MET SANDRA PRINSLOO (Musiekskuur)
Oskar en die pienk tannie is deur die KKNK vereer met drie Kannas: - Beste Teaterproduksie - Beste Regie (Lara Bye) - Beste Aktrise (Sandra Prinsloo)
Oskar en die pienk tannie is deur die KKNK vereer met drie Kannas: - Beste Teaterproduksie - Beste Regie (Lara Bye) - Beste Aktrise (Sandra Prinsloo) “Elke nou en dan, min of meer een maal per jaar, gebeur 'n teaterstuk wat 'n mens nie durf misloop nie. Die soort teaterbelewenis wat by jou steelkant verbyglip en jou totaal ontredder. Wat nie talm of trane trek nie. Wat jou vinnig twee keer laat kyk, vinnig oor jou skouer laat kyk. Wat jou oorrompel met 'n verpletterende besef van die fragiliteit en vlugtigheid van die lewe, van die kosbaarheid van oomblikke. Wat sorg vir 'theatre magic', losweg vertaalbaar as hoendervleis. So 'n stuk is Oskar en die pienk tannie. Die stuk deur Eric-Emmanuel Schmitt is deur Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal. Die teks is verruklik: dis terloops hartseer en terloops snaaks. Prinsloo speel teen die sentiment, trap liggies oor versengende hartseer, raak vlugtig aan paradigmaverskuiwende insigte, streel ingedagte oor absurditeite. Dis haar tydloosheid wat opval: die varsheid van haar kreatiewe genialiteit wat grense, geslagte en generasies oorbrug. Sy vertolk die rol van 'n tienjarige seuntjie wat terminaal siek is. En dié van 'n ouma en 'n paar ander karaktertjies in die kindersaal. Sy vervel naatloos en gee lyf aan 'n reeks karakters wat bybly. Op die verhoog is 'n enkele tafel: die sterwende Oskar se hospitaalbed. Wees gewaarsku: dis sneesdoekie-gebied. 'n Mens se wange word vroeg al nat. Oskar gooi 'n houtoog oor grootmense, die liefde, hormone, God en die dood. Oskar het kanker en sy operasie was onsuksesvol; iets waarvoor hy homself blameer, soos kinders doen. Sy reddingsboei is Ouma Rosa, 'n bejaarde vrou wat elke dag die kinderhospitaal besoek. Sy is wys, pittig en goddeloos. Om hom te vermaak versin sy staaltjies oor haar dae as rofstoeier, die wildewoeste Weskus-wonder. Sy beskik oor morele dapperheid en lieg nie vir die kind nie. Sy beveel hom om elke dag te leef asof dit tien jaar is. Op dié manier kan hy tot op die rype ouderdom van 120 jaar leef. Sy raai hom ook aan om elke dag vir God 'n brief te skryf en 'n wens te wens: “Liewe God My naam is Oskar, ek is 10 jaar oud, ek het die kat en die hond en die huis aan die brand gesteek, en dis die eerste brief wat ek aan jou stuur, want ek het nie voorheen tyd gehad nie. Ek moes leer.”

SHARE THIS PAGE