Dominee Tienie staar so strak soos die graf na die muur voor hom, sy blou-oog
en die pleister op sy voorkop duidelik sigbaar. “Dit was Tannie Bets van Wyk
wat my so geslaan het….”
Die gewilde akteur Frank Opperman (aan baie bekend as “Orkney Snork Nie”
se “Ouboet” ), is terug op die verhoog met ‘n splinternuwe produksie – Die
Klaagliedere van Ds. Tienie Benade.
Ds. Tienie Benade is ‘n middeljarige predikant van die Moedergemeente, aan
die onderkant van Voortrekkerstraat, en hy bevind hom permanent in ‘n
penarie.
Sy gemeente se lot is dieselfde as baie ander gemeentes: getalle is drasties
aan’t daal, die skuldlas groei en sy senior kerkraadslede is knorrig en te oud om
van hulp te wees.
Ds. Benade verskyn op die verhoog met ‘n ghetto blaster waarop orrelmusiek
en selfs ook die begeleiding van ‘n paar gesange opgeneem is. Die orrel se
pype is gesteel soos die gehoor later in die preek verneem, daarom geen orrrel
vir begeleiding nie. Die teater gehoor word vinnig deel van die “erediens” wat
hy een Sondagoggend lei.
Die tema vir sy “preek” is uit Klaagliedere geneem “Wie is ek….?” en is alles
behalwe ‘n dogmatiese verklaring van die teks.
Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade is ‘n storie van verdriet maar ook ‘n
storie van hoop wat nie beskaam nie, ‘n bittersoet verhaal wat met deernis
vertel word van ‘n Afrikaanse dominee in ‘n tyd waarin mense nie meer so
getrou kerk toe gaan nie.
Frank Opperman vertolk ‘n meesterlike rol as predikant in hierdie
eenmanproduksie. Die teks is geskryf deur die bekroonde skrywer Dana
Snyman en die regie is gedoen deur Gerrit Schoonhoven
Die produksie duur 60 minute en is geskik vir alle ouderdomme en is die
perfekte keuse vir ‘n fondsinsameling.
Dit kan in ‘n skoolsaal, kerksaal of selfs binne in die kerk aangebied word.