BARNYARD LOYALTY CLUB
 
 
ENQUIRIES
Book online through our website
or telephonically
BONJOUR MONSIEUR BREL
Jannie du Toit: Sang en kitaar Susan Mouton: tjello en klavier Coenraad Rall: klavier en akkordeon
’n Reis deur die ideë-wêreld van ’n briljante dromer (Afrikaans, Engels, Frans, Nederlands) Jannie du Toit: Sang en kitaar Susan Mouton: tjello en klavier Coenraad Rall: klavier en akkordeon In die nuwe verhoogprogram Bonjour Monsieur Brel word Jacques Brel se beeldryke tekste in vier tale gesing deur Jannie du Toit en begelei deur ’n musiekensemble uit die boonste rakke. Jannie is dekades reeds ’n hoog aangeskrewe Brel-vertolker en ’n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns, onder andere in Nederlands. Sy eerste vertolkings van Brel sing hy in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Laurika Rauch. Brel speel sedertdien deurgaans ’n rol in aanbiedinge soos De Kleine Man en Jannie en die Tannie saam met Christa Steyn. Sy mees onlangse optrede in ’n Brel-produksie was Brel in Brooklyn in 2010, weer saam met Laurika, met Christa by die klavier en Sergio Zampolli as akkordeonis. Veral twee Nederlandse Brel-liedere – Madeleine en Liefde van later – vestig hom vroeg in die negentigerjare as Brel-vertolker, maar sy latere Franse weergawes van La Valse en Il Neige sur Liège kry ook hoë lof van kenners. Naòmi Morgan se Afrikaanse vertalings, wat uiters gunstig vergelyk met vertalings in ander tale, verteenwoordig ’n verrassende nuwe blik op Brel se tekste. Bekende treffers is natuurlik op die spyskaart, maar ook van sy meer onbekende, ewe briljante werk.

SHARE THIS PAGE