BARNYARD LOYALTY CLUB
 
 
ENQUIRIES
Book online through our website
or telephonically
JUANITA DU PLESSIS
Een van ons lewende legendes
Juanita du Plessis is al volkbesit en een van ons lewende legendes. Sy is lank reeds een van ons land se voorste vroulike Afrikaanse kunstenaars en haar loopbaan is gekenmerk deur ‘n aaneenlopende lys van suksesvolle albums en liedjies.

Die begin van haar roemryke loopbaan was haar debuutalbum, “Juanita,” wat in 1998 vrygestel is en reeds toe verskeie toekennings ingepalm het. Haar daaropvolgende reeks albums het almal treffers opgelewer. “Ek En Jy,” wat die snit, “Ska-Rumba,” ingesluit het het haar hele lewe vir altyd verander..

In 2003 het sy ‘n besondere mylpaal bereik deur die eerste Afrikaanse vroulike sangeres te word wat die Nr. 1 posisie op RSG se amptelike Top 20-trefferlys bereik het. Sy het dit boonop vir drie opeenvolgende weke behou. Haar suksesse is indrukwekkend en sy bly ‘n bron van inspirasie vir ander kunstenaars.

Juanita en haar gesin het van Gobabis, Namibië na Pretoria verhuis. Gedurende hierdie tyd het haar musiekloopbaan van krag tot krag gegaan. Haar verkoopsyfers het verskeie hoogtepunte bereik. In 2010 het haar totale verkoopsyfer die 1.6 miljoen merk oorskry. Haar tweede Gospel-album, “Vlieg Hoog” (2007), het ook groot sukses geniet en word steeds as die top Afrikaanse Gospel-verkoper van alle tye beskou.

In 2012 het Juanita ‘n uitmuntende prestasie behaal toe sy die eerste kunstenaar in die geskiedenis van die Afrikaanse musiek was wat 2 miljoen albums in Suid-Afrika verkoop het, ‘n syfer wat sedertdien oorskry is tot meer as 3 miljoen. Sy het nie minder as 22 albums en 7 DVD’s uitgereik, elk met goue of platinum status. Sy het verskeie toekennings van CMA, Huisgenoot Tempo, Ghoema en SAMA’s ingepalm. Hierdie hoogtepunte sluit onder andere in ‘n SAMA vir beste popalbum en topverkoper vir die album “Engel Van My Hart” in, waarvan sy self die regisseur was, asook ‘n Ghoema Diamant Toekenning vir die beste Afrikaanse verkoper in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Juanita is ‘n toegewyde gesinsmens en word ondersteun deur haar man, Doepie en hul drie pragtige kinders – Mario, Franja en Ruan. Juanita se loopbaan is ‘n bewys van haar toewyding, harde werk en vasberade doelgerigtheid wat haar ‘n rykdom van prestasies en erkenning opgelewer het. Haar mees onlangse album, “Dis Tyd,” is in 2020 vrygestel en sy het ook saamgewerk met Ruan Josh en Franja du Plessis aan die baie gewilde en langverwagte Country-album, “Sing Country,” wat in 2021 vrygestel is. Die vrystelling van haar enkelsnit, “Liewe Jinne” in 2023 het die trefferparades stormgeloop en binne slegs 78 dae goue status bereik. Dit is gevolg deur enkelsnitte "Ek Belowe" en die onlangse "Dis 'n Vibe" wat trefferparades klim landswyd.

SHARE THIS PAGE