BARNYARD LOYALTY CLUB
 
 
ENQUIRIES
Book online through our website
or telephonically
JAN BLOHM EN RYNO VELVET
Jan Blohm En Ryno Velvet Span Kragte Saam Vir Indrukwekkende Afskeidsballade
Wanneer twee uiters begaafde musikante en liedjieskrywers kragte saamspan om ’n nuwe liedjie én musiekprojek van stapel te stuur, kan jy maar weet dat die eindresultaat ’n reusesukses gaan wees... en nog soveel te meer as dit Jan Blohm en Ryno Velvet is!

TUSSEN DIE LYNE, ’n eerste vir Velvetblohm en deel van hulle opkomende album, is ’n besonderse snit wat jou aandag hou totdat die laaste noot wegsterf.

Dié ligte rockballade, ’n gesamentlike poging deur Blohm en Velvet wat deur Tertius Human vervaardig is, gaan oor die laaste sentiment wat gedeel word tussen twee geliefdes, maar nie altyd noodwendig oorgedra word nie.

“Ons het gevoel dat elke warmbloedige persoon met die ervaring wat deur dié afskeidsballade getoonset word sal kan vereenselwig. Dit gaan daaroor om te erken dat ons almal soms kwesbaar en weerloos is. In hierdie geval wil ons protagonis subjektief bly (of so voorkom) deur net die beste aan sy beminde toe te wens,” verduidelik Ryno. “TUSSEN DIE LYNE was die vertrekpunt vir Velvetblohm. Wat oorspronklik net ’n enkele optrede sou wees, het ontaard in ’n projek met baie vertakkings en nou is daar ook ’n album op pad.”

Alhoewel Blohm en Velvet reeds in 2006 en 2009 saam getoer het, het die idee vir ’n amptelike Velvetblohm-produksie eers aan die einde van 2021 posgevat toe hulle weer besluit het om saam op te tree. Wat begin het as ’n manier om hulle grootste treffers op ’n besonderse manier met bewonderaars te deel, het saam met Kobie Koen van Vonk Musiek ontwikkel tot ’n geleentheid om nuwe materiaal op te neem en vry te stel.

Albei kunstenaars is baie opgewonde oor die geleentheid om hierdie opwindende reis saam aan te pak. “Ryno is een van my gunsteling-sangers in Suid-Afrika. Ek geniet dit om saam met hom te werk en bewonder die kalmte waarmee hy projekte benader,” sê Jan.

Ryno voeg by: “Dit is ’n ongelooflike ervaring om saam met Jan te kan skryf en opneem. Hy het die vaardigheid om ’n projek te bestuur sodat almal welkom en gemaklik voel en om hom te sien werk is werklik iets om te aanskou.”

Die video van hierdie enkelsnit is verfilm by Urban Brew Studios en Wian van der Walt het die regie behartig. “Ek het dit ongelooflik baie geniet om saam met hierdie musiek legendes te werk,” vertel van der Walt.

Die twee dansers in die video is Sanchia Lamprecht en Michael Clarke.

Die duo is tans in die Coolerbox-ateljee om die laaste opnames vir die album te doen en beplan om later vanjaar landswyd te toer.

Die uiters talentvolle kontemporêre kunstenaar, Jan Blohm het lankal reeds die kuns bemeester om bewonderaars se harte vas te vang met sy musiek. Dié bekroonde musikant en liedjieskrywer, het in 2004 sy debuut gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf en het sedertdien diep in die harte van sy aanhangers gekruip. Hy is veral bekend vir treffers soos Groen Trui, Word Wakker, Ruby, O My Engel, Klein Karoo, Nonnie en Jenny, wat ook die titelsnit is van sy laaste suksesvolle solo-album.

Hy geniet dit om te skilder en beeldhouwerk te doen. Hy is ook die eienaar van Jan Blohm-kunsgalery en Jan Blohm-teater, asook die winkel, Blohmhuis, in die Strand.

Ryno Velvet is ’n veelsydige kitaarspeler, liedjieskrywer en sanger van Bellville in die Kaap. Hy het in 2006 bekendheid verwerf vir sy treffer, Ai My Lam, en maak steeds opslae in alternatiewe Afrikaanse musiek. Hy het reeds vier albums uitgereik en onlangs twee enkelsnitte, Te Naby Die Son en Weskus, vrygestel vanaf sy komende album, Testament.

Hy reis graag en geniet dit om tyd in die buitelig te spandeer. Hy skryf ook gereeld liedjies vir ander kunstenaars en sien uit daarna om die land plat te toer.

TUSSEN DIE LYNE is ’n goeie voorbeeld van wat vermag kan word wanneer passie en talent op die regte manier aangewend word, en is ’n goeie voorsmakie van wat luisteraars van Velvetblohm se eerste album kan verwag.

SHARE THIS PAGE